OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Gauteng verskyn vandag (Donderdag) in die Oudtshoorn-landdroshof op aanklag van bedrog nadat hy na bewering 'n plaaslike sakeman uit meer as R500 000 geswendel het.
Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het die Gautengse man homself as 'n advokaat voorgedoen en op dié manier die sakeman oorreed om geld in sy bankrekening oor te betaal.
"Die saak word sedert Maart deur die polisie ondersoek. Hy is die week in Krugersdorp se gevangenis gevind na hy daar ook op aanklag van bedrog in hegtenis geneem is.
"Die plaaslike polisie het 'n lasbrief vir sy in hegtenis name uitgereik en hy is oorgeplaas na Oudtshoorn sodat hy hier vir die bedrogklag kan verskyn. Dit is nie duidelik hoeveel aanklagte teen hom ondersoek word nie."
Volgens Visser word die man ook vir 'n bedrogklag in Mosselbaai gesoek.
Sover vasgestel kan word is die lasbrief waarvoor hy in Gauteng in hegtenis geneem is reeds in 2011 uitgereik.
Die naam van die Gautengse man is aan die Oudtshoorn Courant bekend, maar kan nie genoem word voor hy in die hof verskyn het nie.
Volgens internetsoektogte na die man was hy in 2015 'n projekingenieur wat gemeenskaplike huureenhede in Kimberley gebou het.
Dié projek is egter nooit gefinaliseer nie. Daar word op hierdie stadium vermoed dat nog voorvalle dalk aan die lig mag kom.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'