Kalifornië
Deelstaat Kalifornië | |||||
| |||||
Bynaam(e): Golden State | |||||
![]() | |||||
Amptelike taal(e) | Engels | ||||
Gesproke taal(e) | Engels 56,1%, Spaans 28,3%[1] | ||||
Hoofstad | Sacramento | ||||
Grootste stad | Los Angeles | ||||
Area | 3de in die V.S. | ||||
- Totaal | 423 970 km2 | ||||
- Wydte | 400 km | ||||
- Lengte | 1 220 km | ||||
- Water | 20 047 km2 | ||||
- % water | 4,7 % | ||||
- Breedtegraad | 32°30'N tot 42°N | ||||
- Lengtegraad | 114°8'W tot 124°24'W | ||||
Bevolking | 1ste in die V.S. | ||||
- Totaal | 37 253 956 | ||||
- Digtheid | 90,9/km2 11de in die V.S. | ||||
Hoogte | |||||
- Hoogste punt | Mount Whitney 4 421 m | ||||
- Gemiddeld | 880 m | ||||
- Laagste punt | Badwater Basin in Death Valley -85 m | ||||
Toetrede tot die Unie | 9 September 1850 (31ste) | ||||
Goewerneur | Gavin Newsom (D) | ||||
Luitenant-Goewerneur | Eleni Kounalakis (D) | ||||
Wetgewer | Parlement van die Deelstaat Kalifornië (California State Legislature) | ||||
- Hoërhuis | Senaat van die Deelstaat Kalifornië (California State Senate) | ||||
- Laerhuis | Huis van Afgevaardigdes van die Deelstaat Kalifornië (California State Assembly) | ||||
V.S. Senatore | Alex Padilla (D) Adam Schiff (D) | ||||
Tydsone | UTC -8 / Somertyd -7 | ||||
Afkortings | CA US-CA | ||||
Webblad | www.ca.gov |
Kalifornië (Engels: California, [kælɪˈfɔɹnjə], ; Spaans: California, [kaliˈfoɾnja]), amptelik die Deelstaat Kalifornië (State of California), is 'n deelstaat aan die suidelike weskus van die Verenigde State (VSA). Dit is die grootste deelstaat ten opsigte van sy bevolking van sowat 39,3 miljoen[2] (soos op 1 Januarie 2016) en die derde grootste ten opsigte van sy oppervlak (424 000 vierkante kilometer), na Alaska en Texas, asook verreweg die digsbevolkte subnasionale entiteit in Noord-Amerika. Die deelstaat grens in die noorde aan Oregon, in die ooste aan Nevada, in die suidooste aan Arizona en in die suide aan die Meksikaanse deelstaat Baja California (Neder-Kalifornië). Die Kaliforniese Kanaaleilande maak ook deel uit van die deelstaat. Die hoofstad is Sacramento, terwyl die grootste stad verreweg Los Angeles is.


Die gebied is deur stamme van die Eerste Nasies bewoon toe Europese ontdekkers die gebied in die 16de eeu geleidelik begin verken het. Die Spaanse navigator Juan Rodríguez Cabrillo was die eerste seevaarder wat in 1542 langs die Kaliforniese kus geseil het. Die eerste Spaanse sendingstasie in die gebied van die huidige San Diego is egter eers in 1769 gevestig. Dekades later het Kalifornië met die Meksikaanse Onafhanklikheidsoorlog in 1821 die juk van kolonialisme afgeskud en deel van die Eerste Meksikaanse Keiserryk geword.
In Junie 1846 het inwoners van die gebied in opstand gekom teen Meksiko en toe die Republiek van Kalifornië uitgeroep. Dié gebeurtenisse het saamgeval met die Meksikaans-Amerikaanse Oorlog tussen 1846 en 1848, waarin die Meksikane 'n verpletterende neerlaag teen Amerikaanse magte gely het. Volgens die Verdrag van Guadalupe Hidalgo is uitgestrekte gebiede in Noord-Meksiko aan die Verenigde State afgestaan. Kalifornië is reeds in 1847 aan Amerikaanse magte onder die bevel van John C. Frémont oorhandig. Op 24 Januarie 1848 het James W. Marshall naby Sutter's Mill goud ontdek. Gedurende die goudstormloop, wat hy ontketen het, het sowat 90 000 setlaars na die gebied gestroom. In 1850 het Kalifornië as 31ste deelstaat by die Verenigde State aangesluit. Kalifornië was sedertdien een van die vernaamste bestemmings vir immigrante. In 1964 het Kalifornië New York verbygesteek om die mees bevolkte Amerikaanse deelstaat te word. In die 20ste en 21ste eeu het Kalifornië veral nuwe aankomelinge uit Asië, Meksiko en die Stille Oseaangebied ontvang.
Kalifornië het 'n hoogsontwikkelde ekonomie, en dit sou as 'n onafhanklike staat met sy bruto geografiese produk die sesde grootste ekonomie ter wêreld wees[5] (die elfde grootste volgens koopkragpariteite[6]). Met 'n bruto binnelandse produk (BBP) van 2,2 biljoen (2 200 miljard) € het die deelstaat in 2015 ondanks sy betreklik kleiner bevolking (39 miljoen) by die Europese Unie se tweede grootste ekonomie, Frankryk (met 'n BBP ter waarde van 2,12 biljoen € en 'n bevolking van 66 miljoen) verbygesteek. Die deelstaat se aandeel aan die VSA se BBP het in 2015 13,9 persent beloop.[7]
Kalifornië het meer as 'n vyfde bygedra tot die Verenigde State se ekonomiese groei sedert 2010 – meer as sy aandeel aan die totale bevolking of nasionale ekonomie.[8] Nogtans is die deelstaat se ekonomie en arbeidsmark kwesbaarder as dié van die hele Verenigde State – die verlies aan werksgeleenthede tydens 'n resessie is groter as die Amerikaanse gemiddeld. Daarenteen groei die Kaliforniese ekonomie vinniger tydens 'n opswaaifase.
Die belangrikste sektore van die plaaslike ekonomie is landbou, die vermaaklikheidsbedryf, ligte nywerhede (waaronder vervoertoerusting, masjienbou en elektronika), biotegnologie, ruimtevaarttegnologie, wapenvervaardiging en toerisme. Enkele streke in die deelstaat word met bepaalde sektore verbind, soos Los Angeles en Hollywood met vermaak; die Central Valley (Sentrale Vallei) met landbou; die Silicon Valley met inligtings- en hoëtegnologie (tegnologie- en internetreuse soos Intel, Oracle, Apple, Google, Facebook en Nvidia het hulle hoofkwartiere hier); en die Kaliforniese wynlande met wynbou. Belangrike natuurlike hulpbronne, wat in die deelstaat aangetref word, sluit hout, ruolie, sement en aardgas in. Die San Franciscobaai en die Groter Los Angeles-gebied word as sentrums van onderskeidelik die wêreldwye tegnologie- en die Amerikaanse rolprentbedryf beskou.
Kalifornië vorm nie net die Verenigde State se demografiese en ekonomiese swaartepunt nie, maar was en is ook die deelstaat waar kwessies van nasionale belang opgewerp en nuwe leefstyle gevolg word. Die Universiteit van Kalifornië se Berkeley-kampus was in die 1960's die bakermat van die Amerikaanse Free Speech Movement en die stadsbuurt Haight Ashbury in San Francisco het tot 'n mekka van die hippie-beweging ontwikkel. Tans is die deelstaat onder meer 'n nasionale leier op die gebied van alternatiewe energiebronne. In 2019 was byna twee derdes van die deelstaat se kragverkope uit koolstofvrye energiebronne afkomstig (hierby word kernkrag ingesluit), terwyl die aandeel hernubare energiebronne op sowat 36 persent beraam is.[9] Die California Institute of Technology, oftewel Caltech, in Pasadena is 'n ander bekende instelling en spits hom op natuur- en ingenieurswetenskappe toe. Kalifornië is ook bekend vir sy liberale tradisie, gevolglik was die meeste goewerneurs van dié deelstaat Demokrate, van die bekendste uitsonderings is Ronald Reagan (1967–1975) en Arnold Schwarzenegger (2003–2011) van die Republikeinse Party.
Etimologie
[wysig | wysig bron]
Die Spanjaarde het die naam Las Californias aan die Neder-Kalifornië-skiereiland (in die huidige Meksiko) gegee. Toe Spaanse ontdekkingsreisigers en setlaars noord en binnelands beweeg het, het die streek California, oftewel Las Californias, gegroei. Uiteindelik het dit land noord van die skiereiland, Alta Kalifornië, ingesluit, waarvan 'n deel die huidige Amerikaanse deelstaat Kalifornië geword het.
Volgens 'n 2017-staatswetgewende dokument "bestaan daar talle teorieë oor die oorsprong en betekenis van die woord 'Kalifornië'" en al wat bekend is, is dat die naam teen 1541 "vermoedelik deur 'n Spaanse seevaarder" by 'n kaart gevoeg is.[10]
Die naam is heel waarskynlik ontleen aan die mitiese eiland Kalifornië in die fiktiewe verhaal oor koningin Calafia, soos opgeteken in 'n 1510-werk Las sergas de Esplandián deur Garci Rodríguez de Montalvo.[11] Koningin Calafia se koninkryk was glo 'n afgeleë land ryk aan goud en pêrels, bewoon deur pragtige swart vroue wat goue wapenrusting gedra en soos Amasones geleef het, sowel as griffioene en ander vreemde diere.[11][12][13] In 1535 het Hernán Cortés Baja California bereik, gedink dit is 'n eiland en dit na aanleiding van Montalvo se boek genoem.[14]
Die Latynse naam het in 1950 ook as basis vir die benaming van die element kalifornium gedien wat deur wetenskaplikes van die Universiteit van Kalifornië, Berkeley ontdek is.[15] Interessant genoeg is 'n element wat een jaar vroeër ontdek is, berkelium, na die Kaliforniese stad Berkeley genoem.[16]
Geografie
[wysig | wysig bron]

Foto geneem deur NASA, 10 Desember 2008
Kalifornië is aan die weskus van die Verenigde State geleë waar dit oor 'n afstand van byna 800 myl in 'n noord-suidelike rigting strek en 200 myl in 'n wes-oostelike rigting. Die kuslyn langs die Stille Oseaan varieer grootliks, van warm sandstrande in die suide tot die rotskus van Noord-Kalifornië met die Lost Coast. In die noordelike helfte van die kus en naby San Francisco is daar die beroemde Golden Gate, waaroor die Golden Gate-brug strek. Noordwes hiervan lê Point Reyes. Halfpad langs die kus, in die Monterey County, strek bergpieke regstreeks tot in die see om die skouspelagtige natuurtonele van Big Sur te vorm. Verder suid vorm Point Conception 'n natuurlike skeiding tussen Sentraal- en Suid-Kalifornië. Langs die suidkus van Suid-Kalifornië, suid van die Santa Barbara-kanaal, is die Kaliforniese Kanaaleilande geleë. In die suidweste, naby die grens met Meksiko, loop die beroemde Coloradorivier wat uitmond in die Golf van Kalifornië. Van die ander belangrike riviere soos die Russian River en die San Joaquin-rivier vloei in 'n westelike rigting en mond in die Stille Oseaan uit.
Die laer bergreekse, wat langs die kus gevorm is, beskerm die wye Sentrale Vallei wat oor die hele lengte van die deelstaat strek en skep 'n gunstige klimaat vir intensiewe boerdery. Verder landwaarts verrys die hoë bergpieke van die Sierra Nevada-reeks, met Mount Whitney as die hoogste piek in die vastelandse Verenigde State – op 4 421 m bo seevlak. In die Sierra Nevada is ook die bekende Death Valley geleë en in 1905 het die Saltonmeer in 'n soortgelyke depressie ontstaan. Anderkant die Sierras en suid daarvan lê die barre Mojave-woestyn wat ooswaarts oor die deelstaatgrens tot Nevada strek. Verder suid is die San Gabriel Valley geleë wat deel uitmaak van Groter Los Angeles. In die ooste sluit die Inland Empire aan.
Kalifornië word geomorfologies in elf verskillende streke onderverdeel – van noord na suid: die Klamath-berge, die Kaskade-bergreeks, die Modoc-plato, die Basin and Range Province, die Kusbergreeks (Coast Range), die Sentrale Vallei, die Sierra Nevada, die Transverse Ranges (ook Los Angeles Ranges genoem), die Mojave-woestyn, die Peninsular Ranges en die Coloradowoestyn.
Klimaat
[wysig | wysig bron]

Die grootste deel van Kalifornië is in 'n tipiese Mediterreense klimaatsone geleë, met koel en nat winters, en warm en droë weerstoestande in die somermaande. Behalwe gebiede langs die Middellandse See word vergelykbare klimatiese besonderhede slegs in drie ander wêreldstreke aangetref – in Sentraal-Chili, die Suid-Afrikaanse Wes-Kaap en gebiede in suidelike en westelike Australië.[17] Die Mediterreense klimaatsone word verbind met besondere plantegroei wat in Kalifornië as chaparral ('n streek met struikgewasse), foothill woodland (bosgebiede in voorheuwels wat deur breëblaarbome en konifere oorheers word), coastal scrub (struikgewasse in laer geleë kusstreke) en immergroen bosse in berggebiede geklassifiseer word.
Weens sy groot oppervlakte en topografiese variasie is daar nogtans 'n groter spektrum klimaatsones wat van polêr tot subtropies strek. 'n Besondere verskynsel langs Kalifornië se kus is somermis wat deur die koel Kaliforniese Seestroming (California Current) veroorsaak word. Gebiede, wat verder landinwaarts geleë is, het koeler winters en warmer somers. Daarenteen oefen die Stille Oseaan 'n matigende invloed op die klimaat in kusstreke uit.
So is die somertemperature, wat in kusgebiede naby Los Angeles en San Francisco gemeet word, nie net die koelste van alle groot metropolitaanse gebiede in die Verenigde State nie, maar ook merkbaar koeler as dié van gebiede in die binneland en langs die ooskus van die Noord-Amerikaanse vasteland wat op dieselfde breedtegrade geleë is. Selfs temperature, wat in die somermaande langs San Diego se kuslyn naby die grens met Meksiko gemeet word, is laer as in ander vastelandse streke van die Verenigde State (behalwe vir Alaska). Enkele myle verder landinwaarts begin temperature merkbaar styg. So is die middestad van Los Angeles enkele grade warmer as die nabygeleë kusgebied. Dieselfde verskynsel kan in die gebied rondom die San Franciscobaai waargeneem word. In plekke, wat teen die see beskerm word, word hoër temperature gemeet as in plekke langs die kus.
Noord-Kalifornië kry in die algemeen meer reën as die suide. Daarnaas oefen ook die bergreekse beslissende invloed op neerslagpatrone uit. Baie van Kalifornië se natste plekke is teen die westelike hellings van berggebiede geleë. Die noordweste van Kalifornië het 'n gematigde klimaat, terwyl die Sentrale Vallei se klimaat as Mediterreens geklassifiseer word, alhoewel met groter temperatuurskommelinge as in die kusstreke. Hoë bergreekse, insluitende die Sierra Nevada, word deur 'n Alpynse klimaat gekenmerk, met sneeuval gedurende die wintermaande en gematigde tot warm temperature in die somer.
Streke oos van die bergreekse is in die reënskadu geleë. Hier het uitgestrekte woestynlandskappe ontstaan. Hoër geleë woestynstreke in die ooste van die deelstaat word deur baie warm somers en koue winters gekenmerk, terwyl die laer woestyne oos van die Suid-Kaliforniese bergreekse gematigde winters het. Hier daal die kwik nouliks benede vriespunt. Die Vallei van die Dood, 'n woestynstreek waarvan groot dele benede seevlak geleë is, word as die warmste plek op aarde beskou. Hier is die warmste temperatuur ooit aangeteken – 134 °F (56,7 °C) op 10 Julie 1913. Die laagste temperatuur, wat ooit in die deelstaat gemeet is, was -45 °F (-43 °C) in 1937 in Boca in Nevada County, Noordoos-Kalifornië.
Geologie
[wysig | wysig bron]Kalifornië maak deel uit van die Stille Oseaan se Ring van Vuur, 'n geologies hoogs aktiewe gebied. So loop baie groot breuklyne soos die San Andreas-breuk, waarlangs twee tektoniese plate – die Noord-Amerikaanse en Pasifiese Plaat, elkeen sowat 300 km dik – teen mekaar skuur, dwars deur die deelstaat en stel 'n groot deel daarvan, insluitende die groot metropolitaanse gebiede van Los Angeles en San Francisco, aan aardbewings bloot. Van die bekende aardbewings sluit in die San Francisco-aardbewing van 1906, die Loma Prieta-aardbewing op 17 Oktober 1989 en die Northridge-aardbewing op 17 Januarie 1994. 'n Deel van die vulkaniese Kaskade-bergreeks strek suidwaarts tot Noord-Kalifornië, met aktiewe vulkane soos Mount Shasta en Mount Lassen.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Prekolumbiaanse tyd
[wysig | wysig bron]

Noord-Amerika is tydens die laaste glasiale tyd deur mense bevolk, toe die Beringstraat droog en daar 'n landbrug was tussen Alaska en Siberië. Die gebied van die latere deelstaat Kalifornië is sowat 15 000 jaar gelede bevolk. Die oudste menslike oorblyfsels is gevind op Santa Rosa Island by Arlington Springs. Die vroegste bewoners van Noord-Kalifornië was vermoedelik die Hokan. Waarskynlik was die Uto-Asteke die oudste menslike bewoners in die woestyn in die suidooste. Net voor die Europese ontdekking van Amerika was die gebied bevolk deur etnies en linguisties uiteenlopende volke. Die aantal inwoners het volgens skattings ten minste 300 000 beloop.[18] Vermoedelik het die aantal in die dekades voor die aankoms van die eerste Europeërs in die gebied reeds sterk afgeneem as gevolg van epidemieë wat die Europeërs saamgebring het na die Amerikaanse ooskus wat voor die ontdekkingsreisigers en sendelinge gereis het.[19][20]
Die relatief groot kulturele diversiteit voor menslike kontak was waarskynlik die resultaat van 'n eeuelange opeenvolging van migrasies en invalle. Kalifornië was bewoon deur meer as sewentig verskillende groepe. Die Indiaanse volke van Kalifornië was uiteenlopend polities georganiseerd. Sommiges het klans of stamme gevorm, ander (veral in die kusgebiede) het in dorpe of groter nedersettings geleef. Die militêre aanvoerders was feitlik altyd mans, maar sjamane was dikwels vroue. Handel, gemengde huwelike en militêre alliansies het die sosiale en ekonomiese kontak tussen die diverse groepe bevorder.
Die kusgebiede was die mees bevolkte gebiede. Die groepe wat hier gebly het (onder meer Chumash, Ohlone, Pomo en Salinan) het bote gebou om seesoogdiere te jag en om salms te vis. Mans het ook skaaldiere versamel. Die kusvolke het in dorpe of nedersettings gewoon. Sommige groepe het ronde, onderaardse huise en sauna's opgerig. Groepe in die binneland (onder meer Hupa, Karok, Maidu, Miwok, Modoc, Shasta en Wiyot) het van die jag op wild en die versameling van neute, eikels en bessies geleef. In die droë suidooste het die Mojave en Yuma geleef wat besproeiing toegepas het om landbou te bedryf en bekend is vir hul keramiek.
Spaanse kolonisasie
[wysig | wysig bron]

Die naam Kalifornië is vir die eerste keer gebruik deur die Spaanse skrywer Garci Rodríguez de Montalvo (ca. 1450–1504). Dit is die naam van 'n fiktiewe eiland wes van Noord-Amerika in De Montalvo se boek Las sergas de Esplandián, waarvan die eerste druk rondom 1496 uitgegee is. De Montalvo se paradyslike eiland was glo bevolk deur Amasone wat onbekende rykdom besit het en regeer is deur koningin Calafia, na wie die eiland genoem is. Een van die Spaanse conquistadores wat deur De Montalvo se roman beïnvloed is, was Hernán Cortés, wie die Astekeryk vernietig en die kolonie Nieu-Spanje gestig het in die huidige Meksiko. Cortés het, op soek na De Montalvo se legendariese goudryk, die weskus van Meksiko verken. Hy het die suidelike punt van Neder-Kalifornië ontdek en in sy veronderstelling dat hy die legendariese eiland bereik het, het hy die gebied California genoem. In 1539 het Cortés die ontdekkingsreisiger Francisco de Ulloa gestuur om die Meksikaanse kus verder te verken. Hoewel De Ulloa vasgestel het dat Neder-Kalifornië 'n skiereiland is, het die misverstand vir 'n lang tyd bly voortbestaan.
Juan Rodríguez Cabrillo (1499–1543) was die eerste Spaanse ontdekkingsreisiger wie die huidige Kalifornië bereik het. In 1542 het sy ekspedisie die kus verken tot aan die monding van die Russian River, noord van die Golden Gate. Cabrillo het die nuwe gebied vir die Spaanse Ryk opgeëis en dit ter onderskeiding van die skiereiland Neder-Kalifornië Alta California (Spaans vir: "Opper-Kalifornië") genoem. In 1579 het die Engelse seerower Francis Drake (1540–1596), wie Spaanse silwerskepe geplunder het, die Kaliforniese kus verken. Hy het al die lande noord van die Spaanse nedersettings vir Engeland opgeëis en dit Nova Albion (Grieks-Latyn vir: "Nieu-Brittanje") genoem. Albei eise is oor twee eeue heen egter nie nagekom deur nóg verdere kolonisasie nóg militêre aanwesigheid, aangesien intussen duidelik geword het dat daar in Kalifornië geen legendariese goudryk te vinde was nie.
Vanaf die middel 18de eeu het die Engelse en die Russiese Ryk begin belangstel in Alta California weens die winsgewende handel met ottervelle. Dit het die Spanjaarde bekommer en in 1769 het die Spaanse inspekteur-generaal van Nieu-Spanje, José de Gálvez (1720–1787), die kolonisasie en bekering van Alta California deur Spaanse troepe en Franciskaanse monnike bevel. De Gálvez het 'n ekspedisie gestuur onder leiding van kaptein Gaspar de Portolá (1716–1784) en die sendeling Junípero Serra (1713–1784), wie 'n presidio (fort) en 'n sendingstasie in San Diego gestig het. De Portolà se ekspedisie het die Baai van San Francisco verken en nog 'n presidio in Monterey gestig, terwyl Serra 'n ekspedisie oor land na die noorde aangevoer het. In die daaropvolgende twintig jaar sou deur die pogings deur die Franciskane meer as twintig sendingstasie dwarsoor Kalifornië gestig word. Voorbeelde sluit in Monterey (in 1775), San Francisco (in 1776) en Santa Barbara (in 1782). Daar is 'n pad gebou wat die sendingstasies met mekaar verbind het. Hierdie El Camino Real ("die koninklike weg") kan steeds gestap word.
Die bekering van die inheemse bevolking het soms met geweld gepaard gegaan, maar die bewerkbare grond rondom 'n sendingstasie is tien jaar ná die stigting onder die bekeerde werkers van die sendingstasie verdeel. Die Spaanse soldate het verdere presidio's opgerig, maar omdat die salarisse dikwels nie betyds betaal is nie, was daar gereeld muiterye, waarvan die bekeerde Indiaanse bevolking die slagoffers geword het. Opstandige soldate in Nieu-Spanje is gestraf met verbanning na Alta California, wat die probleem net vergroot het. Die Indiane het ook reëlmatig in opstand gekom. Uiteindelik het geen enkele sendingstasie finansieel onafhanklik geword nie en beide die kolonisasie en bekering van Kalifornië het vir Spanje 'n onwinsgewende onderneming gebly.
Meksikaanse tyd en opname in die Verenigde State
[wysig | wysig bron]

Nadat die Spanjaarde die Meksikaanse Onafhanklikheidsoorlog (1810–1821) verloor het, het ook Kalifornië onder Meksikaanse gesag gekom. Intussen was daar 'n immigrasiestroom van sogenaamde "rancheros" en ander migrante uit Meksiko. Rancheros (besitters van 'n ranch) was beesboere wie hul oog gegooi het op die vrugbare vlakte van Kalifornië. Omdat wettige gesag feitlik afwesig was, het die reg van die sterkste geheers. Die inheemse bevolking was dikwels die slagoffer en is teruggedryf na die berggebiede, is vermoor of bekeer en in diens geneem. Die rancheros het die sendingstasies as onregverdige mededinging beskou omdat hulle oor die gratis arbeid van bekeerde Indiane beskik het. In 1834 het hulle die Meksikaanse owerhede oortuig om die sendingstasies te ontbind. Hoewel daarby die helfte van die grond bestem was vir die sendingstasies se Indiaanse werkers het die meeste grond beland by 'n klein groepie groot grondeienaars. Deur gewapende sluipmoorde en onderlinge huwelike is dié proses versnel en in 1846 was die meeste grond in besit van 'n klein aantal ryk gesinne.
Amerikaanse pelsjagters het aan die begin van die 19de eeu die wildernis in die noordooste van Kalifornië verken en die roetes na die weste ontdek. In die nasleep het 'n stroom Amerikaanse setlaars met ossewaens en vee oor die bergpasse Kalifornië binnegestroom op pad na wat hulle beskou het as die beloofde land in die Weste. Baie immigrante het die suidelike roete oor die Santa Fe-roete en om die Sierra Nevada heen deur die woestyn gebruik. Ander het die noordelike Kalifornië-roete langs die Humboldtrivier deur die Groot Bekken en oor die Kaskade-bergreeks of die Oregon-roete na Oregon gebruik om daarna via die Siskiyou-roete verder suidwaarts na Kalifornië te trek. Dié tog was lank en mens was blootgestel aan baie ontberinge. 'n Bekende voorbeeld was die ondervindinge van die Donner-groep wat in die Sierra Nevada ingesneeu het en waarvan 'n deel oorleef het deur kannibalisme.[22]
Die groeiende aanwesigheid van Amerikaanse koloniste het die Verenigde State se politieke aandag op die gebied getrek, ook omdat die Amerikaners bang was dat die Britte vroeër of later Meksiko sou kon oorneem. Die Amerikaanse president Andrew Jackson het Meksiko 'n halfmiljoen dollar vir die gebied aangebied, maar dié aanbod is verwerp. Nadat die Amerikaanse president James K. Polk in 1846 Texas geannekseer het, wat voorheen sy onafhanklikheid van Mexiko verklaar het, het die Meksikaans-Amerikaanse Oorlog uitgebreek. Omdat Meksiko gedreig het om al die koloniste wat geen Meksikaanse staatsburgers was uit Kalifornië te verwyder, het op 14 Junie 1846 'n groep Amerikaanse koloniste in Sonoma in opstand gekom teen die Meksikaanse gesag en die Republiek van Kalifornië uitgeroep. Hulle het 'n vlag met 'n grysbeer op gebruik wat steeds die amptelike vlag van dié deelstaat is. Drie weke later het Amerikaanse troepe opgedaag wat Kalifornië by die Verenigde State ingelyf het. Dié anneksasie is twee jaar later deur Meksiko erken met die Verdrag van Guadalupe Hidalgo in Februarie-Maart 1848. Daar word beraam dat die gebied in 1848 minder as 15 000 nie-Indiaanse inwoners gehad het.
Die goudstormloop en sy nasleep
[wysig | wysig bron]



Die aantal immigrante het net voor 1850 spoedig toegeneem as gevolg van die ontdekking van goud. Die eerste vonds in Januarie 1848 was in die American River op die plek waar die goudsoekers daarna die plek Coloma gestig het.[23] Goud is ook gou op ander plekke in Noord-Kalifornië ontdek. Dié nuus het spoedig versprei en baie mense met goudkoors besmet waarvolgens die Kaliforniese goudstormloop ontstaan het. Groot aantalle fortuinsoekers het per boot of oor land na Kalifornië getrek, nie net alleen uit die Verenigde State nie, maar ook uit Suid-Amerika, Meksiko, die Chinese Keiserryk, Australië en Europa. Altesaam het meer as 300 000 nuwe migrante in Kalifornië aangekom. Omdat die infrastruktuur in Kalifornië nie vir hierdie enorme hoeveelheid geskik was nie, het die nuwelinge veral in tente geslaap. Die dorpie San Francisco het binne enkele jaar tot 'n belangrike landingspoort vir voorraad en goedere ontwikkel.
Die eerste goudsoekers het nog eenvoudige metodes gebruik soos goudpanne in riviere en as hulle gelukkig was, kon hulle in 'n kort tyd duisende dollars verdien. Omdat Kalifornië aan aan die begin nog geen deelstaat was met wette of 'n funksionerende regbank nie, is die grondeise dikwels met geweld besleg. Reeds in 1853 het die opbrengs van individuele grondeise egter sover geval dat meer professionele metodes uitgevind moes word soos hidrouliese mynbou.[24] Mense het ook in die grondgesteente na goud begin soek, 'n gevaarlike werk aangesien met springstof dele van berge verwyder moes word. In die goudstormloop se later jare was die ontginning van goud in besit van enkele ryk sakemanne, terwyl die gemiddelde fortuinsoeker min rykdom kon verdien.
Met die dalende opbrengste van die grondeise, die epidemieë as gevolg van die afwesigheid van sanitêre geriewe en die stygende pryse van die lewensonderhoud het die behoefte vir 'n sondebok toegeneem. Indiane is ontsê om geld te verdien met die goudontginning. Proteksionistiese wette het Suid-Amerikaners en Chinese ontneem van werk, grondbesit of die verkryging van die Amerikaanse nasionaliteit. Daar het steeds 'n groot wetteloosheid geheers. Om orde te herstel het die burgers van San Francisco die reg in eie hande geneem en 'n waakkomitee ingestel wat kriminele en korrupte maghebbers tereggestel het. Ander politieke inisiatiewe het tot die opstelling van 'n grondwet gelei en die toelating van Kalifornië as die 31ste deelstaat van die Verenigde State as deel van die Kompromie van 1850.
Tussen 1863 en 1869 is deur twee spoorwegmaatskappye, die Union Pacific Railroad vanuit die ooste en die Central Pacific Railroad vanuit die weste, 'n spoorweg deur die Sierra Nevada aangelê. Die harde werk is veral verrig deur Chinese werkers wat intussen van ander werk uitgesluit is. Die so geboude transkontinentale spoorlyn het Kalifornië met die ooste van die Verenigde State verbind en die reistyd van 'n paar maande na 'n paar dae verkort. Die snelgroeiende bevolking van Kalifornië het gepaard gegaan met 'n snelgroeiende landbou in die sentrum en suide van die deelstaat, veral tydens die Amerikaanse Burgeroorlog (1861–1865) is die invoer van landbouprodukte uit die ooste gekniehalter. 'n Nuwe golf immigrante het aangekom, dié keer boere. Die vraag na water vir landbou het gegroei, wat tot 'n aantal gewelddadige konflikte gelei het, die sogenaamde Kalifornië Wateroorloë.
Die ongebreidelde goudontginning het enorme skade aan die omgewing veroorsaak: houtkap en oopgroefmynbou het gelei tot erosie van vrugbare grond, riviere was besmet met swaarmetale. In reaksie het in Kalifornië as een van die eerste plekke wêreldwyd natuurbewaring opgekom. Die natuurbeweging is gelei deur John Muir (1838–1914) en die deur hom gestigte Sierra Club. Yosemitevallei het in 1864 die Verenigde State se eerste beskermde natuurgebied geword en in 1890 is beide die Yosemite en die Nasionale Sequoia-park gestig.
Die roman Ramona het Kalifornië se Spaans-Meksikaanse erfgoed geromantiseer. Omdat sy publikasie saamgeval het met die opening van die spoorweg na Los Angeles het na 1884 'n golf toeriste na Suid-Kalifornië gestroom om die plekke uit die roman te besoek.
20ste eeu
[wysig | wysig bron]



Die aardbewing van 1906 het 'n groot deel van San Francisco in puin gelê. Die inwoners het die heropbou van die stad self aangegryp om af te reken met korrupte politici, prostitusie en ontoereikende fasiliteite. Die Progressiewe Party, wat in 1912 afgestig het van die Republikeine, was gewild in Kalifornië, veral omdat kiesers keelvol was vir korrupte bestuurders. Die nuwe party het ook opgetree teen die politieke mag van die Southern Pacific Railway en met die in Kalifornië relatief magtige vakbonde saamgewerk. Die vakbonde het ontstaan in San Francisco en aan die begin van die 20ste eeu oor die Sentrale Vallei en na Los Angeles uitgebrei. Hulle het in 'n politieke party saamgesmelt (Verenigde Werkersparty) wat vir 'n kort tyd die burgemeester van San Francisco gestel het. Die konfessionele meerderheid en die liberale het die vakbonde as 'n bedreiging vir die vrye mark beskou en stakings is soms wreed onderdruk. Desondanks het Kalifornië 'n progressiewe koers aanhou nastreef: belastings is op maatskappye gehef, openbare fasiliteite is onder staatsbeheer gebring en Kalifornië was die eerste deelstaat wat 'n moderne pensioenstelsel ingestel het. In 1911 is in Kalifornië vrouestemreg ingevoer, nege jaar vroeër as op federale vlak. Agter dié ontwikkelings het egter nie net die vakbonde gestaan nie, maar ook groepe liberale sakelui, vir wie 'n meer magtige deelstaat beskerming gebied het teen korrupte lokale owerhede en kriminaliteit.
Die aanleg van die Transcontinental Railroad het 'n groeiende stroom migrante uit die ooste van die Verenigde State veroorsaak, gelok deur die deelstaat se vrugbare grond en sonnige klimaat. Progressiewe politici soos goewerneur C.C. Young (1927–1931) het die ekonomiese groei deur openbare beleggings aangewakker. Onder andere is waterkragsentrale soos die Hooverdam opgerig (dié dam is in Nevada geleë maar voorsien Suid-Kalifornië van krag) en 'n omvangryke padnetwerk, gefinansier deur belasting op brandstof. Die aanleg van snelpaaie soos die Lincoln-snelpad (in 1913) en U.S. Route 66 (in 1926) het die deelstaat nog meer toeganklik gemaak vir beide migrante en toeriste. Terselfdertyd het die Meksikaanse Rewolusie (1910–1921) tot 'n golf vlugtelinge uit Meksiko gelei, wat deur die verhoogde welvaart gelok is en hul links-rewolusionêre idees saamgebring het. Veral Los Angeles het in 'n boomtown ontwikkel en volgens bevolking die naasgrootste stad van die Verenigde State net na New York geword. Die stad het die Olimpiese Somerspele 1932 aangebied.
Kalifornië se aantrekkingskrag is versterk deur die opkoms van die rolprentindustrie in Hollywood sedert 1908. Die uitvinder Philo Farnsworth (1906–1971) het in 1927 die eerste televisie-uitsending gedoen. Gedurende die 20ste eeu is die wilde, wettelose beeld van die deelstaat deur die media vervang met een van see, son, strand en branderplankry. Ondertussen het in die 1930's 'n nuwe golf migrante van slagoffers van die droogte en die sandstorms (Dust Bowl) in Texas, Oklahoma en ander deelstate in die Groot Vlaktes na Kalifornië gestroom.
Kalifornië het nie die Groot Depressie vrygespring nie en dit het tot sosiale onrus gelei. Vakbonde het in 1934 met 'n 83 dae lange staking beter werkomstandighede en salarisse probeer afdwing vir dokwerkers. Tydens die staking het egter gewelddadige onluste in San Francisco uitgebreek.
Nadat die Verenigde State die Tweede Wêreldoorlog betree het, het president Franklin D. Roosevelt in 1942 honderdduisende Japannese inwoners van Kalifornië in interneringskampe laat opsluit. Die daaropvolgende regsake het aanleiding gegee tot die Wet op Burgerregte van 1964 wat aan al die Amerikaanse burgers gelyke regte besorg het. Hollywoodregisseurs en -akteurs wat vanweë die verdenking van kommunistiese simpatieë uit die filmindustrie uitgesluit is, het regsgedinge ingedien wat daartoe gelei het dat Kaliforniese howe in 1962 'n einde gemaak het aan die McCarthyisme. In dieselfde jaar het landbouwerkers onder leiding van die vakbondleier César Chávez (1927–1993) daarin geslaag om beter werksomstandighede te eis.
Die jare ná die oorlog was 'n periode van ekonomies groei wat opnuut gepaard gegaan het met 'n aansienlike bevolkingstoename. Squaw Valley het die Olimpiese Winterspele 1960 gehuisves. In 1970 het die bevolking van Kalifornië as gevolg van migrasie en die bababoom gegroei tot byna 20 miljoen. Eiendomsagente wat in die oorlogsjare land opgekoop het, het gesien hoe die waarde van hulle besit toegeneem het tot 'n mate, tat eiendom die ruolie-industrie en landbou ingehaal het as die belangrikste sektor van die ekonomie.
Die linkse beeld van Kalifornië is versterk tydens die Somer van Liefde van 1967, toe duisende hippies na San Francisco gestroom het om na musiek te luister en dagga te rook. Daar is ook gedemonstreer teen die Viëtnamoorlog. Die belangrike kulturele rol van die filmindustrie is bevestig toe Kalifornië in 1966 die voormalige akteur Ronald Reagan (1911–2004) tot goewerneur verkies het. Die jare van 1960 tot 1970 het naas die hippie-beweging ook 'n enorme industriële en ekonomiese groei beleef, met onder andere die opkoms van Silicon Valley en die rekenaarbedryf. Laasgenoemde het ontstaan nadat in 1968 die eerste rekenaar vervaardig is. Kalifornië het met die stigting van Genentech in 1976 ook die geboorteplek van die genetiese manipulasie geword.
Kalifornië het ook in baie opsigte polities 'n baanbrekersrol gespeel. In 1978 is die Proposition 13 goedgekeur. Dié grondwetlike verandering was oorspronklik bedoel om eiendomsbelastingverhogings te beperk, maar dit het 'n strukturele verandering in die politieke stelsel geword. Kalifornië met Proposition 13 'n vorm van direkte demokrasie ingevoer, waarby burgers en belangegroepe baie moontlikhede verkry het om deur middel van volkstemmings onwelkome wette en belastingverhogings te verhoed. Die latere probleem om die begroting van die deelstaat in balans te hou kan grootliks na hierdie wetsverandering teruggevoer word.[25] In 1994 was Kalifornië een van die eerste deelstate wat die three-strikes-wetgewing ingevoer het. In 'n volkstemming het 72% van die bevolking vir hierdie wet gestem, wat bepaal het dat regters altyd lewenslange tronkstraf moet oplê indien 'n verdagte vir die derde keer aan 'n misdaad skuldig bevind word.
Die ekonomiese groei het nie sonder probleme verloop nie. Die verskillende metropole het rookmis en verkeersopeenhopings in die gesig gestaar en Kalifornië het opnuut 'n baanbreker in omgewingswetgewing geword, dié keer op die gebied van saamrybane, skoner brandstowwe en katalisatore. In die groot stede se benadeelde migrantebuurte het sosiale en etniese spanninge ontstaan. Ontevredenheid oor diskriminasie en die benadeelde posisie van die Latyns-Amerikaanse en Afro-Amerikaanse bevolkingsgroepe het gelei tot die onluste van 1965 en 1992 in Los Angeles. Los Angeles was egter ook opnuut gasheer van die Olimpiese Somerspele 1984. Die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1994 is dwarsdeur die Verenigde State beslis en in die Kaliforniese stede Pasadena en Stanford is ook wedstryde beslis.
Die ekonomiese groei het aangehou gedurende die laaste dekade van die 20ste eeu, veral aangedryf deur Silicon Valley se rekenaarbedryf. Toe die dot-comvoorspoedgolf aan die begin van die 21ste eeu gebars het, is Kalifornië ook taamlik erg geraak. Op die hoogtepunt van die borrel is die immigrasie van hoogsopgeleide tegnici aktief aangewakker deur die deelstaat. Sedertdien het die politiek migrasie probeer moeiliker maak, maar baie bedrywe het hul aktiwiteite verplaas na lae-loon-lande soos Indië en die Volksrepubliek China, waardeur die indiensnemingsvlak teleurstellend gebly het. In 2007 het 'n ineenstorting in die huismark gevolg. Die politiek was egter te verdeel om in te gryp. Gevolglik het die begrotingstekort toegeneem en in 2009 het die deelstaat gevaar geloop om bankrot te loop. Dit is uiteindelik voorkom nadat beide Demokratiese en Republikeinse politici op die laatste oomblik 'n ooreenkoms bereik het. Daarmee is die finansiële probleme van die deelstaat egter nie beëindig nie. Die begrotingstekort neem elke jaar toe en die ekonomiese vooruitsigte is heelwat minder rooskleurig as aan die begin van die eeu. In die eerste helfte van die 21ste eeu tree die Verenigde State op as gasheer van groot sporttoernooie soos die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2026 (saam met Kanada en Meksiko), Olimpiese Somerspele 2028 (in Los Angeles), die Rugbywêreldbeker 2031 en die Vrouerugbywêreldbeker 2033 wat ook Kalifornië sal betrek.
Demografie
[wysig | wysig bron]Hoofkenmerke
[wysig | wysig bron]Kalifornië het in die loop van die 20ste eeu merkwaardige bevolkingsgroei ervaar – met 'n inwonertal wat van slegs sewe miljoen in 1940 tot 17 miljoen in 1962 (toe die dit New York verbygesteek het om die mees bevolkte Amerikaanse deelstaat te word) en 19 miljoen teen die middel van die 1960's gestyg het (toe immigrasiewette hervorm is om migrasie uit Afrika, Asië, Latyn-Amerika en die Midde-Ooste te vergemaklik).[26]
Volgens bevolkingsopnames deur die Verenigde State se Sensuskantoor is die deelstaat Kalifornië se bevolking in 2011 op 37,3 miljoen en die aantal huishoudings op naastenby 12,5 miljoen beraam. Van die totale bevolking was 20,1 miljoen in Kalifornië en 6,7 miljoen in ander deelstate gebore. 0,4 miljoen is in Puerto Rico en ander Amerikaanse gebiede en 10,1 miljoen in die buiteland gebore.[27] Van die buitelandse immigrante is 5,4 miljoen of 53,7% in Latyns-Amerika, 3,65 miljoen of 36,2% in Asië, 0,7 miljoen of 6,6% in Europa, 0,1 miljoen of 1,3% in Noord-Amerika en 0,07 miljoen of 0,7% in Oseanië gebore.
Vir 19,65 miljoen Kaliforniërs of 56,5% van die totale bevolking was Engels in 2012 die huistaal, terwyl 15,1 miljoen of 43,5% ander huistale gebesig het. Die grootste hiervan was Spaans met 10 miljoen sprekers of 28,6%. Van die belangrikste immigrantetale sluit in Ilokano, Kapampangan en Tagalog.
Etnisiteit in Kalifornië
[wysig | wysig bron]Die geskiedenis van betrekkinge tussen Kalifornië se verskillende etniese groepe verskil merkbaar van dié in ander deelstate waar Amerikaners van Europese afkoms, Indiane en Afro-Amerikaners die belangrikste rolspelers was. Grondleggende patrone is reeds in die tweede helfte van die 19de eeu gevestig. Die militêre verowering van die Amerikaanse Weste as gevolg van die Amerikaans-Meksikaanse Oorlog van 1846–48 het 'n nuwe samelewing laat ontstaan waarin betrekkinge tussen verskillende bevolkingsgroepe – veroweraars, verowerdes en die groot aantal nuwe immigrante wat hulle in die gebied gevestig het – op 'n etniese grondslag gevorm is.[28]
Etniese afkoms
[wysig | wysig bron]


Land | Totaal | Persentasie | |
---|---|---|---|
![]() |
Duitsland | 3 386 099 | 9,1% |
![]() |
Ierland | 2 662 668 | 7,1% |
![]() |
Engeland | 2 383 639 | 6,4% |
![]() |
Italië | 1 523 941 | 4,1% |
![]() |
Verenigde State | 1 039 496 | 2,8% |
![]() |
Frankryk | 740 709 | 2,0% |
![]() |
Skotland | 532 916 | 1,4% |
![]() |
Pole | 505 259 | 1,4% |
![]() |
Rusland | 440 588 | 1,2% |
![]() |
Swede | 433 847 | 1,2% |
![]() |
Nederland | 402 881 | 1,1% |
![]() |
Noorweë | 395 582 | 1,1% |
![]() |
Portugal | 359 570 | 1,0% |
Grootste metropole
[wysig | wysig bron]-
Los Angeles
(4 031 000) [2015]) -
San Diego
(1 392 000 [2015]) -
San José
(1 042 000 [2015]) -
San Francisco
(867 000 [2015])
Ekonomie
[wysig | wysig bron]
Kalifornië het die grootste ekonomie van alle Amerikaanse deelstate, met 'n bruto geografiese produk van 2,3 biljoen (2 300 miljard) in 2014. Alhoewel dit hoogs gediversifiseer is, word dit veral verbind met hoëtegnologie, vermaak en landbou. Sommige van die wêreld se grootste ondernemings het hulle hoofkwartiere in die deelstaat, insluitende Chevron, Apple, Hewlett-Packard, Intel, Google, Facebook, Nvidia, McKesson (die grootste farmaseutiese onderneming ter wêreld) en Wells Fargo & Co.
Landbou
[wysig | wysig bron]Kalifornië is 'n belangrike uitvoerder van landbouprodrukte en die grootste en veelsydigste produsent van vrugte, groente, wyn en neute in die Verenigde State. Die deelstaat se landboustreke, wat sowat 'n kwart van die totale oppervlakte beslaan (meer as 25 miljoen akkers) en werk verskaf aan meer as 'n miljoen Kaliforniërs, produseer meer as twee derdes van alle vrugte en neute wat in die VSA geoes word, en 'n derde van die groente. Naastenby 5 000 wynboerderye in Kalifornië lewer 81 persent van die Amerikaanse wynoes en verkoop jaarliks sowat 241 miljoen kiste wyn met 'n kleinhandelwaarde van $43,6 miljard. Jaarliks word Kaliforniese wyn ter waarde van meer as $1,5 miljard uitgevoer (waarby die deelstaat 95 persent van die Amerikaanse wynuitvoere lewer).[29] Op internasionale vlak is Kalifornië die vierde grootste wynprodusent.[30]
Ondanks die bedryf se belangrikheid vir die deelstaatekonomie – en sommige van sy streke – word dit oorskadu deur strawwe groei in ander sektore sodat sy aandeel steeds kleiner word. Die bedryf het drie persent van alle werknemers in die privaat sektor in diens en dra sowat een persent tot Kalifornië se bruto geografiese produk by. Watertekorte, onder meer as gevolg van droogtes, is 'n groot uitdaging vir Kaliforniese boere, terwyl lewensnoodsaaklike besproeiingskemas steeds groter koste meebring.
Nywerhede
[wysig | wysig bron]
Kalifornië se nywerheidsektor is tradisioneel hoogs ontwikkel. So het die deelstaat die hoogste industriële produksievolume van alle Amerikaanse deelstate.[31] Vliegtuig- en skeepsbou was nog voor die Tweede Wêreldoorlog belangrike bedrywe wat hoofsaaklik in die suide van Kalifornië gevestig is. Ondernemings uit die Ooskusstate en die Midde-Weste het tot die naoorlogse industriële groei bygedra met die oprigting van Kaliforniese filiale, terwyl die deelstaat ook voordeel getrek het uit federale befondsing van navorsings- en ontwikkelingsprojekte. Diversifisering in Kalifornië se nywerheidsektor het gedurende die 1970's en 1980's nuwe bedrywe soos rekenaartegnologie en biotegnologie laat ontstaan of die groei van bestaande sektore soos gesondheidsdienste bevorder wat in die 1990's almal sterk groei getoon het.
Naas die bogenoemde vervaardigingsbedrywe speel ook elektronika, chemiese produkte, voedselverwerking, asook die vervaardiging van metale en vervoertoerusting 'n belangrike rol. Ekonomiese groei en die sterk bevolkingsaanwas, wat die deelstaat in die 20ste eeu ervaar het, was aandrywers vir die opswaai in die boubedryf wat eweneens tot een van die vernaamste sektore ontwikkel het. Die konstruksiebedryf het sowat vyf persent van die werknemers in Kalifornië se privaat sektor in diens en dra sowat drie persent tot die deelstaat se bruto geografiese produk by. In die vroeë 21ste eeu het die bedryf egter onder druk gekom as gevolg van stygende oorkapasiteit, hoë eiendomspryse, 'n afswaai van die nasionale ekonomie en Kalifornië se openbare skuldkrisis.
Hoë koste bly 'n uitdaging vir baie ondernemings. Sommige van hulle het begin om hul aanlegte na ander dele van die VSA te verskuif (soos die Suidooste en Midde-Weste) of in die buiteland te hervestig. Die vraag na hoogs geskoolde vaklui vir tegnologiegedrewe vervaardigingsprosesse bly egter hoog.
Inligtingstegnologie
[wysig | wysig bron]



Kalifornië was steeds 'n baanbrekerstaat in die tegnologiese en digitale rewolusie. Die Stanford-universiteit in Palo Alto het in die 1950's 'n beskeie begin gemaak met die verhuring van kantoor- en ander ruimte aan ondernemings uit die hoëtegnologiebedryf wat vir die universiteit van enige nut kon wees. Een van die eerste huurders was Hewlett-Packard wie se kontrak as die beginpunt van die doelgerigte konsentrasie van inligtingstegnologie-ondernemings in 'n klein gebied beskou word waarna later, in die 1980's, as Silicon Valley verwys sou word. Hierdie term verwys eerder na die netwerk van tegnologiegedrewe besighede in sy geheel as na 'n streng afgebakende geografiese gebied.
Die streek aan die suidelike kant van San Franciscobaai, waar hulle geleë is, strek van Palo Alto tot San José, die enigste groot stedelike nedersetting in Silicon Valley, en beslaan rofweg 100 vierkante myl (260 vk km). Hierdie munisipaliteite vorm die hartland van Amerika se moderne inligtingstegnologiebedryf waar mikroverwerkers, rekenaars, sagteware, slimfone en ander digitale toestelle ontwerp en ontwikkel word. Sommige van die plaaslike ondernemings het tot globale rolspelers gegroei wat die alledaagse lewe van verbruikers oorheers. Hul invloed strek so ver dat hul name in enkele gevalle ingang gevind het tot die omgangstaal – soos die werkwoord to google ("'n soektog in die soekmasjien Google doen").[32]
Groot mylpale in die tegnologiese geskiedenis van Silicon Valley was die ontwikkeling van mikroskyfies deur Intel in 1971 en die eerste persoonlike rekenaar vir die massamark wat in 1977 deur Apple bekendgestel is. Reeds jare vroeër, in 1969, het Len Kleinrock, 'n professor in rekenaarwetenskap wat aan die Universiteit van Kalifornië te Los Angeles (UCLA) verbonde was, daarin geslaag om data vanuit 'n rekenaar in Los Angeles oor 'n afstand van sowat 360 myl na 'n ander rekenaar in Stanford te stuur. Die internet was sodoende gebore – al het die stelsel destyds vasgeloop nadat die laaste van drie letters – L, O en G – ingetik is.[33]
Silicon Valley het net soos die res van Kalifornië hoog gery op die golf van sukses toe gedurende die 1980's die digitale rewolusie met die ontwikkeling van persoonlike rekenaars ingelui is. Al het ook hierdie rewolusie die pad van ekonomiese golfbewegings gevolg toe die rekenaargedrewe sakesiklus sy laagtepunt bereik en honderde ondernemings hul deure moes sluit. Die volgende uitvinding van Kalifornië se kreatiewe innoveerders – die wêreldwye web op die internet – het dieselfde pad geloop as die grootste beleggingsborrel ooit.
Teen die laat 1990's was werkloosheid in Silicon Valley feitlik onbekend. Skare entrepreneurs het daarin geslaag om beleggers miljarde uit die sak te jaag – met die onsekere vooruitsig om voordeel te trek uit die volgende tegnologiese siklus. Beleggers het dieselfde gedrag getoon soos delwers tydens die Kaliforniese goudstormloop van 1848. Entrepreneurs kon miljoene verdien met besigheidsplanne sonder gedetailleerde beskrywings van die betrokke projek. Weereens het talle ondernemings insolvent geraak. Die ekonomiese krisis, waaronder Kalifornië aan die begin van die nuwe millennium gebuk gegaan het, is vererg deur kragtekorte.
Klanktegnologie
[wysig | wysig bron]Twee groot internasionale rolspelers in die klanktegnologiebedryf, wat onder meer omringklankformate vir die rolprentbedryf en tuisteaterstelsels ontwikkel, het hulle hoofkwartiere in Kalifornië – DTS, Inc. (wat intussen deel uitmaak van Xperi Corporation in San Jose) in Calabasas, Los Angeles County en Dolby Laboratories in San Francisco. Die laasgenoemde is oorspronklik deur die Amerikaanse ingenieur Ray Dolby (1933–2013) in Londen in die Verenigde Koninkryk gevestig, maar in 1976 na Kalifornië verskuif.
Toerisme
[wysig | wysig bron]Volgens Visit California, 'n niewinsgewende organisasie en deelstaatagentskap wat bemarkingsprogramme vir Kalifornië se toerismebedryf ontwikkel en onderhou, het toeriste (onder wie 17 miljoen besoekers uit die buiteland) en sakereisigers in 2015 $122,5 miljard in die deelstaat bestee. Dié inkomste het werkgeleenthede vir 1 064 000 Kaliforniërs en 'n belastinginkomste ter waarde van $9,9 miljard op deelstaat- en plaaslike vlak gegenereer.[34] Van die bekendste natuurbakens in Kalifornië sluit in Lake Tahoe, die Nasionale Sequoia-park, die Yosemite Nasionale Park en die Yosemitevallei.
-
Disneyland
Kultuur
[wysig | wysig bron]Rolprente en televisie
[wysig | wysig bron]

Kalifornië se rolprent- en televisiebedrywe, wat oorspronklik hoofsaaklik in Hollywood gesetel was, maar hul ateljees en ander geriewe intussen grotendeels na ander liggings in en buite Los Angeles soos Burbank en Culver City verskuif het, is rolspelers en uitvoerders van wêreldformaat. Vir die rolprentbedryf se vroeë 20ste eeuse baanbrekers het Suid-Kalifornië in die belangrikste behoeftes voorsien – 'n maksimum van daglig en sonskynure, gematigde temperature, gevarieerde terrein en dramatiese landskappe, historiese en moderne boukuns en goed opgeleide mannekrag.
Die rolprentbedryf het sy eerste bloeitydperk tussen die 1920's en 1940's beleef, in 'n tyd toe mense die realiteit van twee wêreldoorloë, die prohibisie en Groot Depressie in die droomwêreld van rolprentteaters probeer ontvlug het, maar was ná die Tweede Wêreldoorlog heeltemal onvoorbereid vir die uitdaging en strawwe mededinging wat televisie-uitsendings gebied het. Gehore het die voorkeur begin gee aan enige televisievermaak wat tuis geniet kon word. Terselfdertyd het geregshowe ferm teen die rolprentbedryf se vertikale integrasie begin optree – 'n organisasievorm waarvolgens groot rolprentmaatskappye nie net die vervaardiging van films beheer het nie, maar ook hul bemarking, verspreiding en vertoning. Die bedryf se grootste rolspelers is deur regters as trusts bestempel.
Rolprentateljees het die uitdagings met tegnologiese innovasies die hoof probeer bied. Wyeskermvertonings in rolprentteaters, ryker kleure, nuwe gesofistikeerde kameralense en stereofoniese klank is ingevoer, maar desondanks het die ateljees steeds groot finansiële verliese gely en begin om hul rolprentargiewe te verkoop en hul ateljeefasiliteite aan televisie-ondernemings te verhuur of te verkoop. Sommige rolprentateljees soos Universal het self begin om televisieprogramme te vervaardig. Gedurende die 1990's het die rolprentbedryf sy ateljeestelsel met sukses begin herorganiseer en op uitvoermarkte gefokus.
Musiek
[wysig | wysig bron]
Die meeste ondernemings van Kalifornië se musiekbedryf is in Los Angeles saamgetrek wat in die 1960's New York as spilpunt van die Amerikaanse musieksektor vervang het. Die eerste groot etiket in die deelstaat (en aan die hele Amerikaanse weskus), Capitol Records, is in 1942 gestig, en vanaf die 1950's het onafhanklike etikette soos Specialty en Modern grootliks bygedra tot die ontwikkeling en gewildheid van musiekstyle soos rhythm and blues en rock and roll. Reeds in die laat 1940's het Kaliforniese musici hul invloed op jazzmusiek laat geld en hul eie styl gevestig waarna as Cool Jazz of West Coast Jazz verwys is.
Kalifornië se strand- en jeugkultuur is weerspieël in die sukses wat 'n plaaslike groep, die Beach Boys, met hul ontspanne musiekstyl behaal het wat as surf music, surfing harmony sounds of sunshine pop gekategoriseer is. Ander kunstenaars uit Suid-Kalifornië het uitgeblink in 'n verskeidenheid musiekgenres soos folk rock, country rock, punk en gangsta rap, terwyl San Francisco met psigedeliese rockmusiek en Bakersfield met country rock geassosieer word – die sogenaamde Bakersfield Sound waarin country- en rockmusiek tot 'n unieke styl versmelt. Country-sanger Buck Owens het een van sy grootste treffers, The Streets of Bakersfield, aan die stad gewy.[35]
Sport
[wysig | wysig bron]
Kalifornië het tot dusver drie Olimpiese Spele gehuisves wat in die Verenigde State aangebied is, waarvan twee Olimpiese Somerspele en een Olimpiese Winterspele:
- die Olimpiese Somerspele 1932 en Olimpiese Somerspele 1984 in Los Angeles;
- die Olimpiese Winterspele 1960 in Squaw Valley, Kalifornië.
Los Angeles sal die Olimpiese Somerspele in 2028 vir 'n derde keer aanbied, die negende Olimpiese Spele in die Verenigde State. Daarbenewens het die Kaliforniese stede Pasadena en Stanford wedstryde tydens die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1994 aangebied. Tydens die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2026 sal in die Kaliforniese stede Inglewood en Santa Clara ook wedstryde beslis word.
- Amerikaanse voetbal: Los Angeles Chargers, Los Angeles Rams en San Francisco 49ers in die National Football League.
- Basketbal: Golden State Warriors, Los Angeles Clippers, Los Angeles Lakers en Sacramento Kings in die National Basketball Association.
- Bofbal: Los Angeles Angels, Los Angeles Dodgers, Oakland Athletics, San Diego Padres en San Francisco Giants in die Hoofligabofbal.
- Krieket: Los Angeles Knight Riders en San Francisco Unicorns in die Major League Cricket.
- Rugby: Rugby Football Club Los Angeles en San Diego Legion in die Major League Rugby.
- Sokker: LA Galaxy, Los Angeles FC, San Diego FC en San Jose Earthquakes in die Major League Soccer.
- Yshokkie: Anaheim Ducks, Los Angeles Kings en San Jose Sharks in die National Hockey League.
Bibliografie
[wysig | wysig bron]Kevin Starr, voormalige professor in geskiedenis en Kalifornië se staatsbibliotekaris het baie hoogaangeskrewe boeke oor die geskiedenis van Kalifornië geskryf, insluitend die multi-volume Americans & the California Dream Series wat 'n aansienlike hoeveelheid geskiedenis bevat oor Los Angeles en die omliggende gebiede.
- California: A History. New York: Modern Library. (2007). 416 pp. Single Volume History of California.
- Coast of Dreams: California on the Edge, 1990–2003. New York: Knopf. (2004).
- Americans & the California Dream Series by Kevin Starr
- Americans and the California Dream, 1850–1915. New York: Oxford University Press. (1973).
- Inventing the Dream: California through the Progressive Era. New York: Oxford University Press. (1985).
- Material Dreams: Southern California through the 1920s. New York: Oxford University Press. (1990).
- Endangered Dreams: The Great Depression in California. New York: Oxford University Press. (1996).
- The Dream Endures: California Enters the 1940s. New York: Oxford University Press. (1997).
- Embattled Dreams: California in War and Peace, 1940–1950. New York: Oxford University Press. (2003).
- Golden Dreams: California in an Age of Abundance, 1950–1963. New York: Oxford University Press. (2011).
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ (en) "Language spoken at home". Amerikaanse Statistiekkantoor. Besoek op 11 April 2025.
- ↑ (en) Persverslag van die Department of Finance, 2 Mei 2016: New State Population Report. Besoek op 7 Junie 2016 Geargiveer 4 Junie 2016 op Wayback Machine
- ↑ (en) East Bay Times, 29 Oktober 2009: Exhibit in Oakland traces history of the Mormon church in California. Besoek op 4 Augustus 2020
- ↑ (en) Temple Hill Oakland, CA: History of Oakland Temple. Besoek op 4 Augustus 2020
- ↑ (en) www.ca.gov: Doing Business. Besoek op 15 April 2018 Geargiveer 12 April 2018 op Wayback Machine
- ↑ (en) Politifact California, 26 Julie 2016: Does California really have the '6th largest economy on planet Earth?'
- ↑ (de) www.finanzen100.de, 16 Junie 2016: Selbst Kalifornien hat jetzt eine stärkere Wirtschaft als Frankreich. Besoek op 15 April 2018
- ↑ (en) The New York Times, 13 Februarie 2018: Boom and Gloom: An Economic Warning for California. Besoek op 15 April 2018
- ↑ (en) California Energy Commission, 16 Julie 2020: New data shows nearly two-thirds of California’s electricity came from carbon-free sources in 2019. Besoek op 4 Augustus 2020 Geargiveer 9 Augustus 2020 op Wayback Machine
- ↑ (en) Soumya Karlamangla (16 April 2024). "Why Is California Called California?". The New York Times. Besoek op 18 Julie 2024.
- ↑ 11,0 11,1 (en) Gudde, Erwin G.; Bright, William (2010) [2004]. California Place Names: The Origin and Etymology of Current Geographical Names. University of California Press. pp. 59–60. ISBN 978-0-520-26619-3.
- ↑ (en) Putnam, Ruth (1917). "Appendix A: Etymology of the Word 'California': Surmises and Usage". In Priestley, Herbert Ingram (red.). California: The name. Berkeley: University of California. pp. 356–361.
- ↑ (en) Vogeley, Nancy (20 April 2001). "How Chivalry Formed the Myth of California". Modern Language Quarterly. 62 (2): 165–188. doi:10.1215/00267929-62-2-165. ISSN 0026-7929. S2CID 163100071.
- ↑ (de) Rudolf Köster (30 Maart 2012). Eigennamen im deutschen Wortschatz: Ein Lexikon. Walter de Gruyter. p. 28. ISBN 978-3-11-089620-6.
- ↑ (en) "Californium". Royal Society of Chemistry. 2020. Besoek op 11 April 2025.
- ↑ (en) "Berkelium". Royal Society of Chemistry. 2020. Besoek op 11 April 2025.
- ↑ (en) Ramón A. Gutiérrez en Richard J. Orsi (reds.): Contested Eden. California before the Gold Rush. Berkeley • Los Angeles • London: California University Press 1998, bl. 19
- ↑ (en) S.F. Cook (1976). The Population of the California Indians, 1769–1970. Berkeley: University of California Press. gee 'n getal van 310 000
- ↑ (en) W.L. Preston (1996). Serpent in Eden: Dispersal of Foreign Diseases into Pre-Mission California. Journal of California and Great Basin Anthropology. pp. 2–37.
- ↑ (en) W.L. Preston (2002). Portents of Plague from California’s Protohistoric Period. Ethnohistory. pp. 69–121.
- ↑ (en) Z. Engelhardt. San Juan Capistrano mission. Harvard University, The Standard printing co. Besoek op 11 April 2025.
- ↑ (en) Jen Viegas (27 November 2012). "Donner Party Ate Family Dog, Maybe Not People". Seeker. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 November 2020. Besoek op 12 November 2020.
- ↑ (en) Hubert Howe Bancroft (1888). History of California, Volume 23: 1848–1859. San Francisco: The History Company. pp. 32–41.
- ↑ (en) Kevin Starr (2005). California: a history. New York: Modern Library. p. 89. ISBN 0-679-64240-4.
- ↑ (en) "Democracy in California". The Economist. 23 April 2011. Besoek op 11 April 2025.
- ↑ (en) Kevin Starr: California. A History. New York, NY: Modern Library 2015, bl. ix-x
- ↑ (en) State of California – Employment Development Department: Demographic Profile – California and Counties. DP02: Selected Social Characteristics in the United States 2008–2012 American Community Survey 5-Year Estimates Geographic Area: California. Besoek op 1 Mei 2018
- ↑ (en) Tomás Almaguer: Racial Fault Lines. The Historical Origins of White Supremacy in California. Berkeley • Los Angeles • London: University of California Press 1994, bl. xix
- ↑ (en) Business Insider, 26 April 2019: 16 mind-blowing facts about California's economy. Besoek op 4 Augustus 2020
- ↑ (en) Discover California Wines: Media & Trade – Statistics. Besoek op 4 Augustus 2020
- ↑ (en) Investopedia – California's Economy: The 9 Industries Driving GDP Growth. Besoek op 1 Mei 2018
- ↑ (en) "Spotlight: Silicon Valley". visitcalifornia.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Mei 2018. Besoek op 19 Mei 2018.
- ↑ (en) "History of California". lonelyplanet.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Januarie 2017. Besoek op 17 Januarie 2017.
- ↑ (en) "Visit California". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 April 2018. Besoek op 20 April 2018.
- ↑ (en) Visit California: Hear the Bakersfield Sound, Live. Besoek op 20 Mei 2018
Bronnelys
[wysig | wysig bron]- Geskiedenis
- (en) S.F. Cook (1976). The Population of the California Indians, 1769–1970. Berkeley: University of California Press.
- (en) W.L. Preston (1996). Serpent in Eden: Dispersal of Foreign Diseases into Pre-Mission California. Journal of California and Great Basin Anthropology.
- (en) W.L. Preston (2002). Portents of Plague from California’s Protohistoric Period. Ethnohistory.
- (en) Z. Engelhardt. San Juan Capistrano mission. Harvard University, The Standard printing co. Besoek op 11 April 2025.
- (en) Hubert Howe Bancroft (1888). History of California, Volume 23: 1848–1859. San Francisco: The History Company.
- (en) Kevin Starr (2005). California: a history. New York: Modern Library. ISBN 0-679-64240-4.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]![]() |
Wikimedia Commons bevat media in verband met Kalifornië. |
- Amptelike webtuistes
- (en) State of California
- Toerisme
- (en) Toerisme-inligting oor Kalifornië op Wikivoyage
- (en) Visit California
- Ensiklopediese inligting
- (en) "California". Encyclopædia Britannica. Besoek op 11 April 2025.
- Geskiedenis
- Wynbou
- Argitektuur
- (en) The Economist | 1843 Magazine: The story of California’s bizarre novelty architecture
- (en) Rethinking the Future: Architects in California | 75 Top Architecture Firms in California
![]() |
![]() |
![]() |
![]() ![]() |
![]() |
![]() |
![]() |
![]() ![]() | ||
![]() ![]() ![]() | ||||
![]() | ||||
![]() ![]() |
![]() ![]() |
![]() |
![]() |
Verenigde State van Amerika | ![]() |
||||||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
|